Ons vlieg almal duiwe en wil almal graag die klub en Unie kampioen word. Soms duur dit jare en soms gebeur dit feitlik oornag.

Die vraag is waarom gebeur dit so en dan ontdek ‘n man die rede of die alles oorheersende faktor. “Goeie duiwe”! Sodra dit met jou gebeur kan jy nie verstaan hoekom jy vir so lank gesukkel het nie. Alles lyk nou so maklik en dit gebeur net.

Die verhaal gaan oor Lionel Botha van Noordheuwel in Krugersdorp. Hy vlieg in die Noordheuwel Duiweklub in die W.R.R.P.A.

Lionel se verhaal begin toe hy 10 jaar oud was en sy pa duiwe gevlieg het. Hier het die duiwegogga hom gebyt. Hy moes sy liefde vir die duiwe egter onderdruk deur sy skoolloopbaan en studie jare aan die Universiteit van Stellenbosch agterna. Hy het siviele ingenieur geword en begin werk in Windhoek.

In 1981 skuif hy Welkom toe en word onmiddelik wedvlug sekretaris in die destydse WRF. Sy studierigting het hom handig gemaak met die prorammering en gebruik van die HP rekenaar.

Gedurende 1985 skuif hy na Empangeni in Natal toe waar hy duiwe vlieg en ook Voorsitter van die klub was. Toe volg ‘n verdere verhuising na Randfontein toe in 1987. Hy was ook later Voorsitter en Wedvlug-sekretaris van die plaaslike klub. Intussen werk hy en probeer hy duiwe vlieg maar met gemengde sukses.

In 1999 koop hy ‘n groot erf in Noordheuwel, Krugersdorp en kan hy nou ‘n huis bou en duiwehokke oprig na hartelus. Hy vlieg in die Krugersdorp Racing Pigeon Society.

Vanaf 2007 vlieg hy in die Noordheuwel Duiweklub. Hy het altyd gemiddeld goed gevlieg en sy aantal wenne per jaar gekry. Tyd was egter altyd ‘n probleem en hy kon nie doen wat hy graag wou nie. In 2010 kry hy ook sy Nasionale kleure vir wedvlugte vanaf SANPO.

Die duiwe waarmee hy gevlieg het was hoofsaaklik van ou Putterie en Slimme oorsprong. Hy het die duiwe gepaard gevlieg en het geleer om duiwe vir sekere wedvlugte te motiveer.

Lionel het aan die einde van 2010 opgehou werk en kan nou sy volle aandag aan die duiwe gee. Hy bekom in die jaar Van Loon en Koopmans duiwe asook van Dycks uit Dirk van Dyck van Zandhoven by Amsterdam, se duiwe.

Die van Dyck verhaal is ‘n storie op sy eie maar van belang is dat Dirk van Dyck ‘n duif geteel het met die naam van die “Kanibaal” Belg 6246005/95 wat as ‘n jaarling vier eerste plekke gevlieg het en agt keer in die eerste 10. Hy was “ASDUIF” van KBDB België oor die middelafstande.

Lionel se een Van Dyck duif is ‘n kleinseun van die “Kanibaal” dus Lionel het uitgesien na die 2011 vliegseisoen, maar moes ‘n ernstige neusoperasie ondergaan vroeg in 2011 en die bestralingsterapie daarna het sy vliegseisoen ernstig beïnvloed. Tog het hy 6de in die WRRPA Unie geëindig uit 149 spanne en was hy klubkampioen in die Noorheuel Duiweklub.

Dit was bekend by Lionel en sy vriend Frans Retief, dat Remi Pluym van die Vaal Driehoek in die laat 1970’s, ses van Loon duiwe en ‘n Delbar wyfie van Louis van Loon uit Peppel, België ingevoer het. Hierdie duiwe het uitstekend gevlieg en hoewel dit reeds vyf en veertig jaar gelede was het hulle in 2012 nasate van die duiwe gaan opspoor en bekom. Een van die dominante telers is 6636/95 wie se kinders en kleinkinders uitstekend presteer.

Lionel het ook ‘n kleinseun van die beroemde “Wonder Boy 05” van Bertie Camphuis uit die Eierkamp hokke in Nederland bekom. Die kruising Janssen by Van Loon het in baie hokke prestasies gelewer en dieselfde het ook by Lionel gebeur met die “Wonderboy” kleinseun op die Remi Pluym se Van Loon duiwe.

Vanaf die 2011 seisoen het dinge vinng verander in sy hokke en het hy gevind dat hierdie duiwe net baie beter is, as die duiwe waarmee hy tot nog toe gevlieg het.

Dit is nie snaaks as hy drie of vier van hierdie duiwe klok tien tot vyftien minute voor sy ander duiwe by die huis is nie. Die ander duiwe vlieg dan nog steeds goeie klub posisies. Hy het in 2012 elf klub wenne gevlieg en een Unie wen. Hy word toe in 2012 Unie Kampioen en wen ook die Unie Jaaroud en Kortpad punte en eindig derde in die Ope Punte en vierde in die Langpad punte ( 136 spanne).

Gedurende 2013 het hy 17 klub wenne gevlieg en 4 Unie wenne. Dit het aan hom weer die Algehele Unie Kampioenskap in die WRRPA besorg vir 2013.

Sy twee top teel mannetjies is “68” en “54” (24868/2009 en D4254/2010). Hulle is beide Van Loons uit die Remi Pluym duiwe. Dit is duidelik dat die Van Loons in tussen onvervangbaar geword het. Beide hierdie mannetjies het in een jaar alreeds in die vlieghok vyf individuele wenners geteel waarvan sommige dubbele wenners en Uniewenners was. Daar is ook drie besondere van Loon teelwyfies waarvan die kinders buitengewoon presteer en dan die Eierkamp mannetjie 11702/01, geteel uit twee duiwe wat vanaf Eierkamp ingevoer is. Sy beste vliegduif vir 2013 was D4276/10, ‘n mannetjie uit die “Kanibaal” mannetjie. Hy was baie konstant en het nege plekke in die eerste vyf in die klub gevlieg. Hy was in 2011 die tweede beste jaaroud duif in die Unie en in 2013 die vierde beste Ope duif in die Unie. Hy het ook in 2012 gewen maar beseer geraak gedurende die seisoen waarna hy gerus is.

Sy duiwe het aan hom die volgene Kampioenskappe in die Unie gedurende 2013 besorg:
Kortpad Punte, Middelpad Punte, Jaaroud Punte en Algehele Unie Kampioen. Lionel was derde in die unie Ope en op die unie Langpad punte. Dit is die duiwe en prestasie storie, maar hoe rig hy af en versorg hy sy duiwe?

Oefening en Afrigting
Lionel vlieg sy duiwe gepaard vanaf neste, kleintjies en eiers en vir die rede word alle vliegduiwe op 1 April gepaar. Hulle maak elk 1 kuiken per nes groot en sy oefenprogram begin op 15 April. Sy duiwe kry elke dag padwerk. Maandag 30 km, Dinsdag 80 km en 30 km op Woensdag, Donderdag en Vrydag. Die klub vlieg twee wedvlugte elke week, met ‘n 15 duif beperking. Saterdae doen hulle 190 km.

Vliegspan
Sy vliegspan bestaan uit ±125 duiwe waarvan 30 tot 45 ou duiwe is en ongeveer 80 jaarouds. Onder die ou duiwe is daar twee tot vyf duiwe ouer as drie jaar.

Motivering
Die duiwe word om die twee weke op nes gevlieg en die beste nes posisies vind hy 2 weke oud eiers en mannetjies op ‘n volhuis. Dit is wanneer hy nog ‘n kuiken voer en die wyfie reeds weer gelê het.

Medikasie
Lionel volg ‘n vaste medikasie program. Hy besoek Dr. Piet van Zyl van Heilbron twee keer voor elke vliegseisoen en ten minste drie keer gedurende die seisoen. Hy maak uitsluitlik gebruik van Dr. Piet se medikasies en voorskrifte.

Vriendskap
Hierdie is ‘n lekker duiwestorie maar daar volg nog iets en dit is die vriendskapsbande wat daar gesmee is tussen homself, Frans Retief van Sasolburg en Prof. Herman de Jager van Pretoria. Nog ‘n goeie vriend is Mark Raubenheimer van Natal.

Hulle besoek mekaar graag, ruil kennis uit, maar kry ook duiwe by mekaar met toe beursies. Op die manier deel almal in mekaar se prestasies en help hulle mekaar waar hulle kan.