↑ Return to Achievements

KOERT GROBLER – WRRPA UNIEKAMPIOEN 2007, 2008 & 2009

KOERT GROBLER – WRRPA UNIEKAMPIOEN 2007, 2008 & 2009

 

Elkeen van ons probeer kampioen van sy of haar organisasie wees, maar min behaal die sukses. Koert Grobler van Noordhewel Duiwe Klub, Krugersdorp, het dit in 2007 en 2008 reggekry in die West Rand Racing Pigeon Association (WRRPA). Daar was 134 vlieënde lede in 2007 en 145 in 2008.

 

BEGIN

Koert het as skoolseun op hoërskool in vennootskap begin duiwe vlieg saam met sy broer, Etienne, met duiwe wat by die vroeëre WRRPA kampioenvlieër, Kiewiet van Rooyen, gekry is. So goed was die duiwe dat hulle die besondere eer gehad het om reeds in hul eerste wedvlug, met ‘n duif met die naam van Tinkie, die WRRPA Unie te wen. Hulle was reeds ook in hul eerste jaar die WRRPA Unie Junior Kampioene. Tinkie het uiteindelik drie klub en twee Unie wedvlugte gewen. Gedurende sy militêre opleiding in die Lugmag, is op ‘n afstand nog saam met sy broer aan wedvlugte deelgeneem, maar tydens sy universiteitsopleiding as rekenmeester, is die duiwesport tydelik vaarwel geroep en van al die duiwe ontslae geraak.

 

ERNSTIGE DUIWEBOER

Na sy troue met Sandra, is hulle eerste huis in 2001 gekoop, Koert het gou besluit om weer sy liefde vir wedvlugduiwe te beoefen. ‘n Hok is opgesit en hy het eers begin meeding in ‘n vennootskap in die Krugersdorp Racing Pigeon Society (KRPS), met goeie sukses. Baie geld is op veilings op ‘n wye verskeidenheid goeie duiwe spandeer. Na‘n paar seisoene het Koert op sy eie begin meeding. Koert het op sy kenmerkende logiese manier tot die volgende slotsom gekom: hy het beperkte tyd en geld om sy stokperktjie te beoefen en moet ook regverdige aandag aan sy familie gee.

 

DUIWEFAMILIE

Koert het daarom besluit dat hy min duiwe sal kan aanhou wat aan sekere vereistes voldoen: elke duif sal aan baie wedvlugte moet kan deelneem, dus sal die duif gou moet kan herstel van wedvlugte, en elke duif sal dus ook in staat sal moet wees om gereëld plekke in die klub en unie te verower, en wanneer die duif goeie vorm het, moet elke duif ook kan wen. Die baie duiwe, toe in die hok, is aan baie wedvlugte laat deelneem en die wat herhaaldelik en goed kon presteer, is geïdentifiseer. Die duiwe in die hok wat onder die omstandighede presteer het, was almal slegs uit vier (4) duiwe geteel. Dié vier duiwe en hulle kinders is toe gebruik om ‘n eie familie te bou wat van die eerste wedvlug, 270 km, tot die laaste wedvlug,1 050 km, kan presteer en ook kon wen. Die stoetduiwe was: 1.”Brahman” ‘n eie seun van “Spritzy” en die “J&B” mannetjie, 2. ‘n Blouband mannetjie geteel uit ‘n eie broer van “Spritzy” se seun en n suster van “Spritzy”, 3. “George Bush” ‘n Jansen de Klak mannetjie wat geteel is uit ‘n Jansen mannetjie wat reeds verskeie Matjiesfontein wenners geteel het en 4. “Juweeltjie” ‘n dogter van “George Bush” geteel saam met ‘n super niggie van hom. Meer as 90% van die duiwe in sy hok het vandag meestal hierdié bloed in hul are. Uit die familie is dit nie ongewoon om ‘n duif te kry wat 20+ plekke in drie jaar gevlieg het nie. ‘n Duif wat vir twee jaar onder die streng seleksie van herhaaldelike wedvlugte, kan deelneem en presteer, kan stoethok toe gaan.

 

AFRIGTING

Koert glo daaraan dat aangesien hy elke duif aan streng toetse gaan onderwerp, elke jongduif baie deeglik geleer moet word, en gee hulle dus baie oefenvlugte voor die seisoen. Nadat die duiwe stapsgewyse vanaf Maart toegelaat is om buite te loop en om die hok te oefen, word die duiwe pad toe gevat, slegs nadat hulle daagliks een uur sterk om die hok oefen. Elke jongduif kry dus die volgende oefenvlugte: 2 x 5 km, 2 x 10 km, 2 x 20 km, 3 x 30 km, 2 x 50 km en 2 x 80 km. Daarna neem hulle aan al die unietrok se oefenvlugte deel, gewoonlik 3 tot 6 – 150 km tot 200 km oefenvlugte. Die ou duiwe word eers van 30 km ver af bygebring. Gedurende die wedvlugseisoen word al die duiwe daagliks om die hok geoefen, plus ‘n pad oefenvlug van 30 km tot 80 km. Die afstand word gewissel soos wat hy dink die duiwe nodig het.

 

VOEDING

Hier bly Koert by sy logiese en praktiese reël van harde werk en goeie voeding. Hy meng sy kos self gebasseer op ‘n mengsel wat bitter weinig verskil van die algemene vliegmengsels in die handel beskikbaar. Die rede vir sy eie mengsel, is om te verseker dat die kos elke jaar dieselfde is, om nie aan sy basiese program te verander nie. Dieselfde kos, sonder variasies, word van Sondag tot Saterdag gevoer.

 

MEDISYNE

Daar word voorkomend 5 tot 7 dae behandel vir al die normale siektes: kanker, koksidiose, salmonelose, ornitose, mikoplasmose en malaria. Inenting word ook gedoen vir pokke en paramyxo. Gedurende die seisoen word poeiers bo strope verkies en word die duiwe net vir twee tot drie dae voorkomend behandel. Wat uiters belangrik is om vir minstens drie dae Flora vir die duiwe oor die kos of in die water toe te dien.

 

UITSTAANDE DUIWE

Omdat Koert min duiwe aanhou is feitlik alle duiwe uitstaande duiwe en bykans almal is nou verwant aan mekaar. Dit klink moeilik om te glo, maar in 2007 het Koert die beste en tweede beste duif in die Unie gehad met in totaal elf (11), ja dit is reg elf, van die vyftig beste duiwe in die unie. In 2008 het Koert die tweede en derde beste duif in die unie gehad en 5 van die beste 50 duiwe in die unie.

 

JONGDUIF SIEKTE

Hierdie gevreesde siekte het die jongduiwe in sy hok in 2008 ernstig getref. Koert benader dit nou weereens baie prakties nadat al die middels op die mark probeer is. Die middels op die mark word nou slegs gebruik om sekondere infeksies te bekamp en die siek jonges word ondersteun met rus en vitamienes om hulle op te bou. Aan die einde van die dag is dit slegs hul eie immuunstelsel wat die siekte sal oorwin. As die siekte die hok tref word alle jongduiwe daaraan blootgestel en dan ondersteun om dit te oorwin.

 

RAAD AAN BEGINNERS

Koert se praktiese raad aan beginners is om te besluit hoeveel tyd en geld hulle beskikbaar het om aan duiwe te bestee, terwyl die regte tyd en aandag aan familie ook gegee kan word. Die enigste veranderlike daarna is die kwaliteit van die duiwe wat verbeter kan word. Wat baie help is om vriende te maak met goeie duiweboere buite jou unie, wat jy dan gereëld kan bel vir hulp en raad wanneer daar probleme opduik.

 

Koert sê ook baie dankie aan dié spesiale duiweboer vriende wat hom gehelp het om op die wenpad te bly. Hy dank ook die Hemelse Vader vir die vooreg en talent wat Hy vir hom gegee het om duiwe te kan vlieg. Hy bedank ook sy familie wat hom deurgaans ondersteun. Sonder hulle sou hy ook nie kon duiwe vlieg nie.